SAMA: Kerkorrel vereer
Johannes Kerkorrel word vanjaar met ’n Suid-Afrikaanse Musiekprys (Sama) bekroon vir sy lewensbydrae tot die land se musiekbedryf wanneer dié pryse die naweek van 10 en 11 Mei by Sun City oorhandig word.
Reuben Grobler, Kerkorrel se seun, sal daar wees om die prys namens hom te ontvang.
Die ander twee ontvangers van vanjaar se lewenspryse is Sizwe Zako en Thomas Chauke. Chauke is veral bekend om die bevordering van tradisionele Tsonga-musiek en Zako is ’n veteraan-vervaardiger van gospel.
Kerkorrel is die sangnaam van Ralph Rabie, wat op 12 November 2002 selfmoord gepleeg het. Hy was 42.
Saam met die Gereformeerde Blues Band het hy in 1989 gesorg vir die album Eet kreef, wat goed verkoop het ten spyte van pogings tot sensuur.
Hy was een van die groot rolspelers in die daaropvolgende Voëlvry-beweging en een van die eerste plaaslike kunstenaars wat ’n suksesvolle loopbaan in Nederland en België gehad het.
Te oordeel na die Sama-aankondiging én ’n produksie oor sy werk, Die hart is ’n eensame jagter – Herontmoet Johannes Kerkorrel, wat pas op die Absa Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn te sien was, is hy nog lank nie vergete nie.
Grobler (29) het gesê hy het sedert sy pa se dood baie meer aandagtig na sy musiek geluister en bewus geword van die perfeksionis wat Kerkorrel was en hoe hy nooit opgehou het om die gehalte van sy lirieke voorop te stel nie.
“Ek voel geëerd om hierdie prys namens hom te gaan ontvang. Ek is baie bly hy kry op hierdie manier erkenning.
“Hy was nooit ’n egoïstiese mens nie. ’n Mens kry performers en dan kry jy ware kunstenaars. My pa het geweet watter een hy was.”
Grobler het gesê hy is redelik seker hy het sy pa se musiektalent geërf, maar sal nooit probeer om in sy voetspore te volg nie. Hy werk as omgewingswetenskaplike in Pretoria.
Nhlanhla Sibisi, uitvoerende hoof van die Samas, het in ’n mediaverklaring gesê vanjaar se ontvangers van lewenspryse is “onvervangbare pilare” in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf wie se bydrae tot die kunste nie onderskat moet word nie. Die lewensprys sluit ’n trofee en ’n kontantbedrag van R15 000 in.
Posted: Beeld | Anna-Retha Bouwer | 3 April 2013
Source: http://www.beeld.com/Vermaak/Nuus/Tien-jaar-later-Ewig-is-ons-Johannes-Kerkorrel-20121111